Nuwe Gim-hoof

Deur Liesel le Roux

Mnr Stephanus Potgieter

Mnr Stephanus Potgieter, nuwe hoof van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, die week agter sy lessenaar.

MNR STEPHANUS POTGIETER wat sedert die begin van verlede kwartaal as skoolhoof van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn waargeneem het, is met ingang 1 Oktober aangestel as die nuwe hoof van die skool.

Hy volg mnr Jaco Lombard op wat einde Junie na Pretoria verhuis het waar hy ’n hoofpos aanvaar het.

Hy glo in die aankweek van goeie waardes, dissipline en respek vir almal, sê Potgieter.

“Vir my is ’n gelukkige skool met gelukkige ouers, kinders en onderwysers baie belangrik.”

Potgieter sê hy het nie na die skool gekom om dinge te verander nie.

“Ek het net kom help skryf aan die skool se geskiedenis. Ek glo in elk geval aan mede-besluitneming en beskou myself as ’n spanspeler.” Volgens hom het sy nuwe skool vele sterk punte, maar glo hy die skool is veral bevoorreg om oor ’n akademiese en tegniese been te beskik wat leerders die geleentheid bied om al op skool beroepsgerig te begin studeer.

Potgieter was voorheen ’n departementshoof by die Boland Landbouskool in die Paarl, waar hy 13 en ’n half jaar lank leerkrag was.

Hy is getroud met Elmari en hulle het twee kinders, Stephan (27) en Marike (25).