20ste KKNK bekend gestel

DIE program vir die 20ste Absa KKNK wat vanjaar op Oudtshoorn aangebied word, is gisteraand tydens ’n bekendstellingsprogram in die Kango Grotte bekend gestel.

Die 20ste fees sal van 29 Maart tot 5 April plaasvind.

Rhodé Snyman, waarnemende uitvoerende hoof van die Absa KKNK, het by die bekendstelling van die feesprogram vanjaar as ’n koor beskryf.

“Met ’n verskeidenheid bekende stemme, geharde stemme en nuwe stemme, klink die program van die twintigste kunstefees op Oudtshoorn, soos ’n koor in harmonie.”

Vanjaar se fees spog met 22 nuwe tekste en vyf nuwe vertalings/verwerkings van internasionale toneelstukke. Onder die ongeveer 150 aanbiedings op die program is daar meer as 50 debuutproduksies.

Brandende kwessies word vanjaar trompop geloop. Rachelle Greeff het die Anene Booysen moord en verkragting as vertrekpunt vir die drama Rondomskrik gebruik, terwyl Willemien Brümmer in haar eerste drama, Braai, die soeklig plaas op die verband tussen gesinspolitiek en landspolitiek.

Aan die ligter kant van die program is daar 20 komedies.

Spesiaal ter viering van die 20ste Absa KKNK, word gewilde produksies van vorige feeste herhaal. Hieronder tel Shirley Valentyn met Shaleen Surtie-Richards, Die Naaimasjien met Sandra Prinsloo en Deon Opperman se Boesman, my seun met Louis van Niekerk en Wessel Pretorius.

Bekende name sal vanjaar volop wees by die fees.

Akteurs wat gaan optree, is onder meer Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Anna-Mart van der Merwe, Amanda Strydom, Tobie Cronjé, Shaleen Surtie-Richards, Gys de Villiers, Dawid Minnaar, Antoinette Kellermann en Theodore Jantjies.

Op die musiekverhoë en in musiekproduksies sal bekendes soos Laurika Rauch, Elvis Blue, Theuns Jordaan, Steve Hofmeyr, Emo Adams, Chris Chameleon, Jack Parow, Kurt Darren, Bobby van Jaarsveld, Mathys Roets, Brandon October, Karen Kortjé, Dr Victor and the Rasta Rebels, David Kramer, Koos Kombuis, Arno Carstens, Francois van Coke, Karen Zoid en Zolani Mahola te sien wees. Voeg hierby Die Huisgenoot Klein Karoo 20 Jaar Pops, ’n spesiale skemerkonsert met Nataniël, Laurika Rauch, Kurt Darren, Dorothy Masuka, Karen Zoid, Emo Adams, Nianell, Thandi Klaasen, Amanda Strydom, Koos Kombuis en Zanne Stapelberg en Die Groot Kaktus op die Vlaktes met Freshly Ground, Springbok Nude Girls, Van Coke Cartel, Gangs of Ballet, Bittereinder, Black Cat Bones en die Skynmaagde.

Die 20ste fees gaan vanjaar in styl afskop met die Absa KKNK Bravo!-bal. Die bal sal dien as fondsinsameling vir die Teaterbystandsfonds. ’n Hardeband-gedenkboek, saamgestel deur Ilza Roggeband, Anet Pienaar-Vosloo en Karen Meiring, word tydens die bal bekend gestel en sal by die fees te koop wees.

Die fees bied vanjaar weer eens bekostigbare toegangspryse by die Rivierbuurt. Kinders jonger as 15 jaar wat deur ’n ouer vergesel word, kry gratis toegang tot die terrein. ’n Weekkaartjie kos slegs R120.

Die Rivierbuurt huisves onder meer die kykNET-musiekverhoog, waar die gewilde Son Top 40-program saans sal speel, asook sowat 400 stalletjies, lekkerbek proe-ervarings (wyn en kos), gratis vermaak vir kinders, ’n pretpark en vanjaar ook ’n area vir kampeerders, jagters en buitelewe-entoesiaste.

Kaartjies vir produksies is vanaf 29 Januarie beskikbaar by Shoprite, Checkers of Computicket by www.computicket.com.

Besoek die webblad, www.absakknk.co.za, vir die program. Volg die Absa KKNK op Twitter, Facebook, Pinterest en Instagram vir daaglikse inligting en lusmakers.