Bote in die Karoo

Deur Liesel le Roux

Bote i die Karoo

BOTE IN DIE KLEIN KAROO? Hugo Warrington en Mari-Lize van der Walt op die terrein waar hulle tans ’n interessante oornagplek inrig. Die erf is hoog bo Hoogstraat in Oudtshoorn geleë en bied onbelemmerde uitsigte oor die Klein Karoo na die noorde, weste en suide. Op die inlas is die bote vanaf Hoogstraat – ’n gesig wat menige persoon al laat rem trap of in hul spore laat vassteek het.

WANNEER ’n mens in die noordelike deel van Hoogstraat op Oudtshoorn loop of ry, sien jy skielik ’n aantal seilbote op ’n hoogte net oos van die pad – kompleet asof hulle soos Noag se ark ná ’n vloed net daar op die Klein Karoo-heuwel gestrand het.

Die sestal bote wat al sedert verlede jaar baie mense aan die wonder het, is deel van ’n opwindende nuwe toeristeverblyprojek op ’n erf tussen Draai- en Hoogstraat.

Die bote – vyf seilbote en een rivierboot – word tans in verblyfplekke omskep terwyl ’n klubhuis en ander strukture ook tans op die groot erf gebou word.

Die hele projek het as ’n spottery begin, vertel Hugo Warrington waar hy op die erf bedrywig is. Hugo is die seun van dr Neville Warrington van Durban, jare lank al die eienaar van die stuk grond.

Pa en seun is albei baie lief vir seil en hulle was juis met ’n boot op pad toe dit naby Beaufort-Wes gebreek en hulle dit na die erf op Oudtshoorn gebring het.

Hulle het eers net gespot dat die boot in ’n verblyfplek omskep kon word, vertel Hugo, maar uiteindelik het die gespot in erns oorgegaan.

Die bote, wat hulle aankoop wanneer dit nie meer geskik is om verder te seil nie, het meer geword en die projek ’n werklikheid.

Hugo en sy vriendin, Mari-Lize van der Walt, het in April verlede jaar met die projek op Oudtshoorn begin, en hoop dat die bou- en restourasiewerk in Julie voltooi sal wees.

Een van die seilbote wat tans daar staan, gaan egter nie vir verblyf gebruik word nie, maar eerder as ’n soort museum dryf in ’n spesiale poel water net langs die klubhuis. Dié seilboot met die naam Bekka round the world kom van Australië en is tydens ’n eenmanvaart om die wêreld gebruik. Dit sal besigtig kan word net so toegerus soos dit om die wêreld gevaar het.