Die Hoorn 13 jaar later

Die Hoorn personeel

Die Hoorn personeel

DIT is vandeesweek 13 jaar gelede wat Schalk en Liesel le Roux Die Hoorn op Oudtshoorn kom vestig het. Die eerste uitgawe van dié koerant vir die Klein Karoo het op 25 Januarie 2001 verskyn.

Schalk het voor sy koms na Oudtshoorn nege jaar as verslaggewer en subredakteur by Beeld in Johannesburg gewerk en daarna wye ervaring in die gemeenskapspers opgedoen. Hy het onder meer sy eie koerant in Sasolburg besit en dit later aan ’n groot koerantgroep verkoop.

Die Hoorn is een van die min plaaslike koerante in Suid-Afrika in privaatbesit en behoort dus nie aan ’n groep van buite nie. Die Hoorn se eienaars en personeel is almal Oudtshoorniete!

Die koerant se naam dui eerstens op die dorp waarin dit “gebore” is: Oudtshoorn. Maar dit verwys ook na ’n horing as klankinstrument of basuin waarop daar in Bybelse tye en daarna geblaas is om boodskappe oor te dra. Die horing is geblaas om belangrike nuus oor te dra – byvoorbeeld wanneer manskappe moet aantree vir ’n oorlog, wanneer daar gevaar was, by die troonbestyging van konings of tydens feeste en optogte.

Soos met die horing van ouds wil Die Hoorn sedert ons eerste uitgawe plaaslike nuus uitbasuin.

Dit was in dié 13 jaar ’n voorreg om deel te word van die gemeenskap van Oudtshoorn en die ander omliggende dorpe in die Klein Karoo.

’n Groot dankie aan ons lesers en ons adverteerders se steun oor die 13 jaar wat verby is!