Ma en seun hier begrawe

Deur Liesel le Roux

Carin Rabbets (49).

Carin Rabbets (49). Foto: Facebook

DIE vrou en seun van Wessel Rabbets, voormalige munisipale bestuurder van die Groter Oudtshoorn, word Saterdag op Oudtshoorn begrawe.

Carin (49) en Ralph (18) Rabbets het verlede Vrydag gesterf nadat hulle motor die pad sowat 55?km buite Richmond in die Noord-Kaap verlaat en gerol het. Hulle was op pad na Bloemfontein waar Ralph vanjaar met sy mediese studie aan die Universiteit van die Vrystaat sou begin het.

Ralph het einde 2013 matriek met sewe onderskeidings geslaag. Carin was ’n sielkundige.

Wessel wat ’n passasier in die motor was, is slegs lig beseer. Carin is op die ongelukstoneel oorlede, terwyl Ralph later in die hospitaal op Victoria-Wes gesterf het.

Ralph Rabbets (18).

Ralph Rabbets (18). Foto: Facebook

Hul oudste seun, Charles (20), was nie saam in die motor nie.

Die teraardebestelling vind Saterdag om 10:00 in die Oudtshoorn Begraafplaas plaas, en ’n roudiens om 11:00 in die NG Kerk Oudtshoorn-Wes.

Die tragiese ongeluk en die dood van Carin en Ralph het skokgolwe deur die hele Wes-Kaap gestuur. Wessel is wyd bekend in die Wes-Kaap met werk wat hy al by verskeie munisipaliteite gedoen het. Hy werk tans vir PricewaterhouseCoopers.

Wessel het van April 2009 tot Maart 2010 as munisipale bestuurder op Oudtshoorn waargeneem. Die gesin het van 1993 tot 1998 op Oudtshoorn gewoon toe Wessel ’n assistent- bestuurder in die korporatiewe departement was. Ralph was toe ’n leerder aan die Laerskool Wesbank.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het gister in ’n persverklaring gesê daar word met droefheid kennis geneem van die dood van Carin en Ralph.

Carin het op Oudtshoorn grootgeword en is ’n oud-leerder van die Hoërskool Oudtshoorn. Haar moeder, Anna Loftie-Eaton (77), woon in Tuishuis op Oudtshoorn.

Die Rabbets-gesin het onlangs van Moorreesburg waar hulle lank gewoon het, na Malmesbury verhuis.