Ouma Sannah Bosch sterf op 105 jaar

Deur Garnett Wicomb

Ouma Sannah Bosch (105) van Bongolethu, Oudtshoorn.

Ouma Sannah Bosch (105) van Bongolethu, Oudtshoorn.
Foto: Garnett Wicomb

BONGOLETHU se oudste inwoner, Ouma Sannah Bosch, is verlede Vrydag na ’n kort siekbed oorlede. Sy was 105.

Volgens ’n familielid was sy gedurende Desembermaand siek en in die hospitaal.

’n Dokter het aanbeveel dat sy in ’n tehuis opgeneem word waar goed na haar omgesien kan word. Sy is Vrydag in die Helen Bellinganhof Tehuis vir Bejaardes opgeneem, maar is dieselfde aand oorlede.

Ouma Bosch het met haar 105de verjaardag op 5 September 2013 gesê sy voel glad nie oud nie.

“Die bene is nie meer so sterk nie, maar ek voel nog jonk,” het sy toe gesê.

Ouma Bosch is in 1908 gebore en het in 1949 van Graaff-Reinet na Oudtshoorn verhuis.

’n Spesiale roudiens en ete vir senior burgers van Bongolethu is gister deur wyksraadslid, Eric Ngalo, en die Oudtshoorn Munisipaliteit in die Bongolethu Gemeenskapsaal gehou.

“Ons is hier om die lewe van ’n gerespekteerde inwoner en ouma van die gemeenskap van Bongolethu en Oudtshoorn te vier,” het Ngalo gesê.

Ouma Bosch word Saterdagoggend ter ruste gelê. Die huisdiens te 19de Laan, Bongolethu, begin om 09:00.