Zaaymans weer in Maart in hof

Deur Garnett Wicomb

DIE saak teen ’n pa en sy seun, Daniël Zaayman (43) en Edward Zaayman (23), wat albei tereg staan op klagtes van bedrog, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn Landdroshof tot 10 Maart 2014 uitgestel.

Daniël word daarvan aangekla dat hy homself as ’n prokureur voorgedoen het terwyl Edward daarvan aangekla word dat hy voertuie gekoop het sonder om daarvoor te betaal en dit dan weer verkoop het.

Edward staan tans tereg op vier aanklagte van bedrog, maar nog vele meer kan volgens die ondersoekbeampte, ao Daromi Burger, bygevoeg word. Hy het volgens Burger reeds op 12 September 2012 met sy beweerde bedrieëry begin. Meer as R1,3 miljoen is by die saak betrokke.

Die staatsaanklaer, me Samantha Hendricks, het die hof Donderdag versoek om die saak weer uit stel omdat die ondersoek nog nie afgehandel is nie.

Die twee is verlede jaar borgtog geweier en is sedertdien in aanhouding.

Edward is op 22 Oktober 2013 by ’n padblokkade buite Oudtshoorn deur die polisie voorgekeer met twee motors wat hy en sy vrou glo op slinkse wyse in Port Elizabeth gekoop en in Oudtshoorn en George van die hand probeer sit het. Daniël is twee weke later op ’n bus tussen Welkom en Mosselbaai in hegtenis geneem. Hulle word in tronke op George en Mosselbaai aangehou.

 

Comments

  1. By Paramount chief Xaumoab Gaiba (imp0sed Hermanus Baatjies)