20ste Klein Karoofees

DIE Absa KKNK het sy 20ste fees op Oudtshoorn verlede Woensdagaand in die Kango Grotte op hoë noot afgeskop. Die bietjie meer as 100 genooide gaste oa lede van die media en stigterslede van die fees kon die Grotte se skoonheid én akoestiek ervaar met ’n optrede deur Jannie Moolman, die sopraan Friedl Mitas en die Hoërskool Oudtshoorn se spogkoor.

Die Klein Karooomgewing het met reg die hoofrol vertolk in die bekendstelling van vanjaar se fees dit is immers die geboortegrond van die land se grootste kunstefees. Lede van die media is Donderdag ook op ’n mediatoer geneem wat verskeie Klein Karoo-uniekhede ingesluit het.

Die oggend het afgeskop met ’n besoek aan die bekende meerkatte van De Zeekoe en daarna die geleentheid om die kronkelpad na die RoomsKatolieke kerkie boop Kruisberg buite Dysseldorp uit te klim. Toe was Meiringspoort aan die beurt waar die omgewingskenner Jan Vlok meer vertel het oor dié wêrelddeel se unieke plantegroei. Hoeveel inwoners van die Klein Karoo weet dat die malvas wat dwarsoor die wêreld bekend en geliefd is, eintlik van hier kom? Vlok was reg toe hy opgemerk het dat inwoners van die Klein Karoo dikwels nie die inheemse plantegroei na waarde skat nie.

Die toer het hierna na die bekende rolprentmaker en oudvoorsitter van die KKNK, Jans Rautenbach (78), se plaas vertrek. Die eerste stop was die unieke en pragtige skool op die plaas, Vlakteplaas Primêr, waarvandaan niemand onaangeraak kan weggaan nie. Hier word kinders respek vir hulleself en ander geleer en almal twee keer per dag gevoed. Musiekonderwyser Neels Coetzee vertel dat elke leerder in graad 5 ’n instrument kan kies wat hy of sy wil leer bespeel!

Toe was dit die Klein Karooson om 12:00 by ’n vaalgeel huisie waar Rautenbach tans tonele vir die rolprent Abraham verfilm. Langs die huisie die woonhuis van die hoofkarakter in die rolprent, gesels Jans met intense emosie oor die rolprent en later speel Riku Lätti musiek wat hy daarvoor gekomponeer het. Jans het talle swaargewigte betrek om met dié rolprent te help, maar ook talle nuwe gesigte en vars stemme.

Die toer is afgesluit met ’n feesmaal en warm gasvryheid by Oulap op sigself ’n proesel van die vriendelike ontvangs wat kunstefeesgangers nou al 20 jaar in die Klein Karoo ontvang.