Carlito droom van studeer en werk

Deur Liesel le Roux

Die vriendelike Carlito Michaels (18) van Smartie Town, wat matriek met ’n Bgemiddeld geslaag het en gewys het dat ’n gestremdheid ’n mens nie hoef terug te hou in die lewe nie. By hom is sy ma, Mary Agulhas.

Die vriendelike Carlito Michaels (18) van Smartie Town, wat matriek met ’n Bgemiddeld geslaag het en gewys het dat ’n gestremdheid ’n mens nie hoef terug te hou in die lewe nie. By hom is sy ma, Mary Agulhas.

SY groot droom is om ’n werk te vind en ook moontlik te studeer, sê Carlito Michaels (18) van Smartie Town, Oudtshoorn, wat pas sy matriekeksamen geskryf het.

Carlito ly sedert sy babadae aan spinale distrofie wat hom van ’n rolstoel of hulp van ander afhanklik maak om te kan rondbeweeg. Hy staan moeilik op en kan met moeite enkele treë sonder hulp loop. Noudat sy skooldae verby is, bring hy die grootste deel van sy dag voor ’n rekenaar by die huis deur.

Sy jonger suster, Kesha Michaels (14), wat skoolgaan aan Aurial Kollege, ly aan dieselfde toestand.

Carlito het matriek aan Bridgton Senior Sekondêr met ’n Bgemiddeld geslaag. Sy vakke was Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, rekeningkunde, ekonomie, inligtingstegnologie en lewensoriëntering.

Carlito vertel sy elektriese rolstoel het sowat ’n jaar gelede probleme begin gee iets wat sy vryheid erg inperk en hom nog meer afhanklik van ander maak. ’n Besigheid het ’n aantal jare gelede die rolstoele vir hom en Kesha help betaal.

“Ons weet nie wat verkeerd is nie,” vertel sy ma, Mary Agulhas. “Die karretjie het gebreek en hulle sê ’n ingenieursplek sal dit moet regmaak.”

Carlito vertel hy het nooit op skool gevoel om tou op te gooi nie en dat daar gelukkig mense was om hom te ondersteun. ’n Vriend, Bradley Esau, het hom by die skool na sy klasse geabba en van die onderwysers het hom by die huis opgelaai om hom na middagklasse en ander plekke te neem.

Volgens twee van sy onderwysers , Jerome Jantjies en Cedrick Marajh, was Carlito altyd vriendelik en ’n hardwerkende leerder wat getrou sy skoolwerk gedoen het. Hy het ook nooit nee gesê vir ekstra middagklasse nie.

Wanneer Carlito nie met die rekenaar werskaf nie, kyk hy graag sport op TV.

“Ek hou baie daarvan – krieket, rugby, alles,” vertel hy met ’n breë glimlag.

Intussen hoop en vertrou Carlito dat dinge vir hom kan verander.

“Ek wil graag deur Unisa studeer, maar finansies is ’n probleem. Nou wil ek probeer werk enigiets waar ek kan tik of op ’n rekenaar kan werk of administratiewe werk kan doen.”

• Enigiemand wat met Carlito in aanraking wil kom, kan hom gerus kontak op sy selfoon by 072 481 5128.