Dié vroue koop 1ste

Deur Liesel le Roux

HULLE is nie net jaarliks eerste by Computicket op Oudtshoorn om kaartjies vir die Absa KKNK te koop nie, hulle is ook waarskynlik Oudtshoorn se grootste kopers van kunstefeeskaartjies.

Dit is nou die susters Bernadien Kleyn en Annamarie Janse van Rensburg en hulle ma, Maryna Barnard.

Vir vanjaar se 20ste KKNK het hulle drie reeds 72 kaartjies tussen hulle gekoop! Bernadien, medeeienaar van die haarsalon Serious Hair op Oudtshoorn, sê sy en Annemarie was Donderdagoggend soos gebruiklik vroeg reeds by Computicket op Oudtshoorn om hul kaartjies vir vanjaar se fees te koop.

Lede van die Absa KKNK se lojaliteitsklub, Kliek, kon reeds sedert verlede Donderdag kaartjies vir vanjaar se fees koop, terwyl die res van die publiek sedert gister kan kaartjies koop.

Die fees is elke jaar vir hulle ’n hoogtepunt, sê Bernadien.

“Ons is op Oudtshoorn so bevoorreg om ’n kunstefees in ons eie dorp te hê. Ons hoef nie geld uit te gee op vervoer en verblyf om ’n fees op ’n ander dorp of in ’n ander stad te gaan bywoon nie.”

Oor die jare het sy al digby die 300 KKNKvertonings bygewoon.

Dit het haar lewe op ’n spesiale manier verryk, vertel sy.

Volgens Bernadien gaan hulle drie saam na party van die vertonings, en soms alleen as dit ’n produksie is wat net een van hulle wil sien.

Die vertonings wat haar oor die jare die meeste geraak het, was drie toneelstukke: Oscar en die pienk tannie, Boesman, my seun en Lot.

Vanjaar sien sy veral uit na Jak de Priester se optrede en Nicola Hanekom se Land van skedels.

“Ons drie begin elke jaar met die Afskopkonsert. Dit is ’n moet!” Sy vier nie net fees tydens die KKNK nie, sê Bernadien. Tussendeur die vertonings sorg sy ook dat sy drie dae werk sodat sy nie haar kliënte afskeep nie.

• Kaartjies vir die fees is te koop by Shoprite, Checkers, Computickettakke of Computicket se webtuiste (www. computicket.com).