Gimnasium vier sy 21ste

Die hoofseun en hoofmeisie, Charl Kemp en Elmarie Botes, lui die klok 21 keer!

Die hoofseun en hoofmeisie, Charl Kemp en Elmarie Botes, lui die klok 21 keer!

EEN van Oudtshoorn se topskole, Langenhoven Gimnasium, het gister sy 21ste verjaarsdag gevier. Langenhoven Gimnasium het in Januarie 1993 sy deure die eerste keer geopen ná die amalgamasie van die Hoërskool CJ Langenhoven (’n handelskool) en die Hoër Tegniese Skool.

Die dag het afgeskop met ’n saalbyeenkoms wat deur oudhoofde en ander belanghebbendes bygewoon is. Onder die eregaste was die skool se eerste hoof en adjunkhoof, mnre Erich Terblanche en Johan Stadler, en die eerste voorsitter van die skool se beheerliggaam, dr Piet du Toit. Ander eregaste was die kringbestuurder mnr Ferdi Maritz, asook mnre Chris Swanepoel, ’n oudskoolhoof, me Marie van Antwerp, ’n oud waarnemende skoolhoof, me Wena Maartens wat die woorde van die skoollied geskryf het, en dr Kobus Smith, ’n oudvoorsitter van die beheerliggaam.

Die skriflesing en gebed is net soos by die eerste saalbyeenkoms in 1993 deur ds Gerrit van Schalkwyk waargeneem.

Verskeie sprekers het die see van netjiese Gimmies in hul blou baadjies oor die geskiedenis van die skool ingelig, gewys op die Christelike grondslag waarop die skool gebou is en die strewe om dit uit te bou tot die nommereenskool in die SuidKaap.

Ná afloop van die saalbyeenkoms is elke Gimmie met ’n stukkie koek bederf, nadat ’n verjaarsdagkoek wat vir die dag gebak is, in 720 stukkies gesny is!