Ma, seun hier gegroet

Deur Liesel le Roux

Die familie Saterdag by die grafte van Carin Rabbets en haar seun Ralph op Oudtshoorn. Van links is adv Hannes Cloete (Carin se broer), Anna Loftie-Eaton (Carin se ma), Charles Rabbets (Ralph se ouer broer), Martie Rabbets (Wessel se ma), Wessel Rabbets, Fred Rabbets (Wessel se pa) en tweede van regs ds Andre Orfer.Foto: Garnett Wicomb

Die familie Saterdag by die grafte van Carin Rabbets en haar seun Ralph op Oudtshoorn. Van links is adv Hannes Cloete (Carin se broer), Anna Loftie-Eaton (Carin se ma), Charles Rabbets (Ralph se ouer broer), Martie Rabbets (Wessel se ma), Wessel Rabbets, Fred Rabbets (Wessel se pa) en tweede van regs ds Andre Orfer.
Foto: Garnett Wicomb

CARIN het grootgeword in die NG Kerk OudtshoornWes, sy is daar voorgestel en haar seun, Ralph, daar gedoop daarom was dit reg dat Carin en Ralph se begrafnis en roudiens in dié kerk afgesluit is, het adv Hannes Cloete, Carin Rabbets (49) se broer, Saterdag by die roudiens vir sy suster en haar seun gesê.

Carin en Ralph (18) het op Vrydag, 17 Januarie, in ’n motorongeluk gesterf terwyl hulle van hul huis op Malmesbury op pad was na die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein waar Ralph medies sou gaan studeer het.

Carin se eggenoot, Wessel Rabbets, het van April 2009 tot Maart 2010 as munisipale bestuurder op Oudtshoorn waargeneem. Die gesin het van 1993 tot 1998 op Oudtshoorn gewoon toe Wessel ’n assistentbestuurder in die korporatiewe departement was.

Wessel, wat ook in die motor was ten tye van die ongeluk, se linkerarm is in die ongeluk beseer.

Carin se ma, me Anna Loftie-Eaton, woon in Tuishuis op Oudtshoorn.

Hannes het tydens die bedankings gesê die medelye en simpatie van mense ná Carin en Ralph se dood het hulle as familie oorweldig.

Carin en Ralph is die oggend tydens ’n privaatbegrafnis in die Oudtshoorn Begraafplaas ter ruste gelê, waarna die roudiens daarna in die NG Kerk OudtshoornWes plaasgevind het. Die diens is onder andere deur twee oudburgemeesters van Oudtshoorn, mnr James Swigelaar en me Diane de Jager, en oudkollegas van Wessel bygewoon.

Ds Andre Orfer, wat die begrafnis en diens gelei het, het gesê hoewel dit ’n baie moeilike dag vir almal is, die gebroke familie kan vashou aan 1 Kor 15 wat handel oor die opstanding en ewige lewe. Hy het verwys na Carin se woorde dat die ewige lewe nie eers eendag begin nie, maar al hier op die aarde met ’n persoonlike verhouding met Jesus: “Die ewigheid is nie eendag nie. Dit begin nou al,” het hy haar woorde herhaal.