Man kry 23 jaar ná skokkende hofsaak
‘Skandalig, wreed, onmenslik en veragtelik’

Deur Garnett Wicomb

“Skandalig, wreed, onmenslik en veragtelik.” Só het streeklanddros Daniël Boks gister in die streekhof op Oudtshoorn die optrede van ’n man van Dysselsdorp beskryf voordat hy hom 23 jaar tronk toe gestuur het.

Hendrik Lewis (38) het die ma van sy twee kinders, wat hom juis as gevolg van sy wreedheid verlaat het, twee keer verkrag en haar twee keer gedwing om sy ontlasting te eet.

Hy is 18 jaar gevonnis vir die verkragtings en vyf jaar vir aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy het skuld ontken.

Volgens Boks is Lewis gelukkig dat hy nie die skerp voorwerp waarmee hy die vrou gedreig het, gebruik het en haar te beseer nie.

Dit het hom van lewenslange tronkstraf gered.

“Vroue en kinders moet teen die wreedheid en afskuwelikheid van mense soos jy beskerm word,” het die landdros aan Lewis gesê.

Die staatsaanklaer, Nadia le Roux, het vir lewenslange vonnis gevra in die lig van die beskuldigde se laakbare optrede.

“Die vrou is verneder en sy was skaam om twee keer oor die saak in ’n ope hof te kom getuig.”

Die voorvalle het op 20 Augustus 2012 in Lewis se huis in Jumaatsstraat, Dysselsdorp, plaasgevind nadat hy die vrou, met wie hy langer as twaalf jaar lank saamgeleef het, met ’n skerp voorwerp gedreig het en haar gedwing het om saam na sy huis te gaan.

Hy het die deur van die huis gesluit en die vrou op ’n bed neergegooi, ontklee en twee keer met haar gemeenskap gehad sonder haar toestemming. Hierna het hy op ’n pot gaan sit om te ontlas,’n lepel van sy ontlasting geskep en die vrou gedwing om dit te eet.

Hierna moes sy self daarvan skep en eet terwyl hy haar met ’n byl gedreig het.

Die vrou het getuig dat sy naar geword en opgegooi het.

Sy het gehuil. Haar tante het toe daar aangekom en tandepasta by ’n buurvrou gaan soek om die stank uit haar mond te kry.

Boks het Lewis se getuienis met minagting verwerp en dit as vals en leuenagtig beskryf.

Hy het ook gelas dat Lewis onbevoeg verklaar word om ’n vuurwapen te besit.