Prokureursfirma, dorpsbestuurders saam in die hof

Deur Garnett Wicomb

’N PROKUREURSFIRMA van Oudtshoorn, Avontuur en Genote Ingelyf, die eienaar Clyde Avontuur, en twee voormalige munisipale bestuurders, Noël Pietersen en Mpo Mogale, het vandeesweek in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn op aanklagte van diefstal en bedrog (alternatiewelik diefstal) en die versuim van behoorlike rekenkundige boekhourekords.

Adv Duncan Korabie wat vir Mogale verskyn het, het die hof Dinsdag versoek om sy kliënt vry te spreek en te ontslaan omdat die staat nie kon bewys dat hy Art 174 van die Strafproseswet oortree het nie.

Mogale het in 2011 op Oudtshoorn as munisipale bestuurder waargeneem.

Die saak verskyn voor streeklanddros Kenneth Peters van Kaapstad.

Die versoek het gekom nadat die staatsaanklaer, adv Jannie Knipe, die staat se saak teen Mogale Dinsdag gesluit het.

Volgens Korabie was dit uit die getuienis van mnr Bjorn Metembo, senior rekenmeester van die munisipaliteit sedert 2011, duidelik dat Mogale se toestemming vir die betaling van R313000 aan Avontuur en Genote Ingelyf, gestrook het met sy magte nadat die senior finansiële beamptes geen beswaar daarteen aangeteken het nie.

Metembo het getuig dat die betaling gegaan het vir invorderingswerk wat die prokureursfirma reeds gedoen het en dat die rekening ouer as drie maande was.

Ná onderhandelinge met die eienaar van die firma is ook geen rente gehef nie.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het volgens Metembo in die tyd dat Mogale as munisipale bestuurder waargeneem het, ’n ongekwalifiseerde oudit van die provinsie gekry.

Korabie het die hof versoek om die uitspraak oor Mogale terug te hou totdat die staat sy saak teen die ander beskuldigdes gesluit het.

• ’n Voormalige senior rekenmeester van die munisipaliteit, mnr Lin Meiring, was Maandag die eerste van twintig staatsgetuies.

Hy het uitsluitlik getuig oor die toekenning van ’n tender aan Avontuur en Genote om skuld vir die munisipaliteit in te vorder. Die tender is in 2005 toegeken, maar tussen Desember 2008 en Januarie 2011 is geen oorbetalings van die firma ontvang nie. ’n Bedrag van sowat R670 000 is na bewering betrokke.

Adv Jerome van der Schyff, vir Avontuur en Pietersen, het dit aan Meiring gestel dat daar teen Avontuur en Genote gediskrimineer is omdat dit die eerste bruin prokureursfirma was wat ’n kontrak van die munisipaliteit gekry het. Meiring het dit ontken en gesê die firma se werk was nie op standaard nie.

• Een van die klagtes teen Pietersen is Maandag met die aanvang van die verhoor deur die staat teruggetrek.

Die verhoor gaan einde Maart voort in die Oudtshoorn Streekhof.