Union Stars bo-aan punteleer

Deur Garnett Wicomb

UNION Stars is ná goeie oorwinnings die naweek oor Mayflower van Groot Brakrivier en Pacaltsdorp United die nuwe voorloper op die punteleer van die Premierliga van die SWD Krieketraad.

In die wedstryd teen Mayflower het die verdedigende kampioen eerste gekolf en ’n beskeie telling van 118 aangeteken met net Claude Campher (53) wat met die kolf beïndruk het.

Mayflower het egter nog swakker gevaar en is vir ’n skamele 46 lopies uitgehaal wat aan Union Stars ’n oorwinning met 72 lopies besorg het.

Mario Jansen (2/8), Marco Kammies (3/5), Leroy Bredenkamp (2/14) en Reagan Booysen (2/14) het die paaltjies gedeel.

In Sondag se wedstryd teen die naasvoorloper op die punteleer, Pacaltsdorp United, het laasgenoemde eerste gekolf en 179/7 in sy toegelate boulbeurte aangeteken. Carl Meyer (43) was sy span se beste kolwers en Otniel Baartman (3/41) Union Stars se beste bouler. Vier kolwers is uitgehardloop.

Union Stars het met 180/8 geantwoord om met 2 paaltjies te wen. Jean Heunis (41), Atta Ur Rehman (32) en Claude Campher (29) het goed gekolf.

• In nog ’n Premierligawed stryd die naweek het Harlequins Magte Krieketklub albei sy wedstryde verloor.

In Saterdag se wedstryd het Pacaltsdorp op sy tuisveld eerste gekolf en 178 lopies aangeteken. Sidwill Williams (4/27), Wayne gelant (2/9) en Warren Sevierus (2/35) was Harlequins se beste boulers. In Harlequins se beurt van 83/9 het Sevierus (32) ook goed gekolf.

Pacaltsdorp het die wedstryd met 95 lopies gewen.

In Sondag se stryd teen Mosselbaai het die besoekers eerste gekolf en ’n groot telling van 236 op die telbord geplaas.

Glenton Stuurman (2/33) en Enverino Swarts (2/32) was Harlequins se suksesvolste boulers.

Harlequins is daarna vir 162 uitgehaal met die beste individuele bydraes dié van Kurt Fourie (30), Williams (24) en M Linters (23).

Mosselbaai het met 74 lopies gewen.