Vragmotor ná ongeluk gestroop

Deur Liesel le Roux

Die vragmotor van 22 meter lê geknak langs die pad by die ingang na Meiringspoort vanaf Klaarstroom se kant.

Die vragmotor van 22 meter lê geknak langs die pad by die ingang na Meiringspoort vanaf Klaarstroom se kant.

’N SKARE inwoners van Klaarstroom en Blomnek by De Rust het Vrydag ’n groot vragmotor wat omstreeks 13:30 in Meiringspoort omgeslaan het, van sy vrag gestroop ten spyte van versoeke dat net die vrag wat uitgeval het, geneem mag word.

Die tien polisiebeamptes op die toneel kon vroegaand nie meer die groot getalle mense van die vrag weghou nie. Die vragmotor het ’n wye verskeidenheid kruideniersware vervoer.

Mense het deur die loop van die middag te voet en per voertuig op die toneel opgedaag en geduldig in groepies gewag.

Hulle is later toestemming gegee om die kruideniersware wat uit die vragmotor geval het, te verwyder, maar is versoek om die res te los.

Die skare het egter nie gehoor gegee nie en alles gestroop.

Die bestuurder van die ellelange vragmotor van 22 meter moes uitgesny word nadat die kajuitgedeelte van die vragmotor met die hulp van ’n SANWherwinningsvoertuig gelig is. Die bestuurder het vermoedelik beheer om die draai verloor met sy swaar vrag wat die vragmotor laat kantel het. Die kajuit het in die vlak water langs die pad beland.

Die bestuurder is met beserings in die hospitaal opgeneem.

Volgens sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, word geen saak ondersoek nie.