Persverklaring van Peter Roberts

Peter Roberts, DA-raadslid van die Groter Oudtshoorn, het die volgende persverklaring uitgereik oor sy besluit om Donderdag (6 Februarie 2014) se raadsvergadering teen die wense van die plaaslike DA-koukus by te woon:

Dit is my plig as verkose raadslid van die Oudtshoorn Munisipaliteit om ten alle tye in die beste belang van die mense van Oudtshoorn op te tree, en meer spesifiek, die inwoners van Wyk 7, wat ek verteenwoordig as raadslid. As raadslid moet ek die wette van die Republiek van Suid-Afrika eerbiedig en verdedig.

Ek het die besluit gemaak om na vore te kom ten opsigte van die aangeleentheid oor die Nel-skikking, gebaseer op my eie oortuiging van reg en geregtigheid en die beginsels, waardes en visie van my party, die Demokratiese Alliansie.

Na kommunikasie met my leier, Helen Zille, en sy my saak aangehoor het, het sy my verwys na die DA se regspan, sodat hulle my kan adviseer wat presies my te doen staan in hierdie verband. Ek bedank my leier en ons regsspan vir die uitstekende leiding en ondersteuning wat ek ontvang. Ek is en bly ’n trotse Demokratiese Alliansie raadslid.