Bridgton wen taai derby

Deur Garnett Wicomb
GENADELOOS, hard en by tye ietwat geniepsig.
So kan Saterdag se derbystryd op die Bridgton Sportgronde tussen die twee aartsvyande, Bridgton en All Blacks, opgesom word.

Dit was ’n klipharde en aanskoulike wedstryd waarin geen genade gevra of gegee is nie en die agttalle mekaar behoorlik opgedreun het. Twee spelers van elke span is met geelkaarte van die veld gestuur. Bridgton het uiteindelik met 22-14 gewen maar dit kon net sowel All Blacks se oorwinning gewees het. Die rustydtelling was 15-7 in Bridgton se guns.

All Blacks het in die tweede helfte hul beste rugby gespeel en was ongelukkig om nie meer punte op die telbord te kon kry nie.
Bridgton het eerste punte aangeteken toe die haker, Cheslin September, in die 8ste minuut oor is vir ’n drie. Adrian Booysen (losskakel) het kort daarna met ’n maklike strafdoel geslaag om sy span met 8-0 te laat voorloop.

Bridgton het weer verwoed aangeval en ’n strafdrie gekry ná ’n oortreding van ’n All Black voorspeler op sy eie doellyn waarvoor hy ’n geelkaart gekry het.
Jeffrey Prins (slot) van All Blacks het kort voor halftyd ’n drie gedruk vir sy span se eerste punte. JP van Vught het verdoel vir ’n telling van 15-7.
All Blacks het sy agterstand in die middel van die tweede helfte tot een punt laat krimp danksy die mooiste drie van die wedstryd wat Cristefer Snyman (senter) onder die pale gaan druk het nadat hy paar verdedigers in die lug laat gryp het.
Van Vught het verdoel vir ’n telling van 15-14.

Bridgton het met sy volgende beweging sy ondersteuners rasend gehad. Rhupino Plaatjies is ná ’n sterk lopie naby die doellyn gestuit. David Goliaths (slot) het daarna die bal in die hande gekry en gaan druk. Booysen het weer verdoel om sy span met 22-14 te laat voorloop.

Bridgton moes die laaste paar minute met dertien man speel nadat twee spelers met geelkaarte langs die kantlyn gesit het, maar het goed verdedig om die swart truie van hul doellyn weg te hou.
• Die wedstryd is ontsier met ’n lelike skellery tussen ’n amptenaar van All Blacks en spelers van Bridgton op die plaasvervangersbank asook ’n SWD-speler van die klub. Hierdie soort gedrag hoort nie by ons rugby nie.
• Bridgton B het All Blacks se naasbestes met 24-8 gewen terwyl die C-spanne gelykop (22-22) gespeel het. Vir die Bridgton B het Ashwayne Britz (2), Autirge Tiemie en Percival Dido drieë gaan druk. Gushwil Goliath en Joseph Cupido het elk met ’n doelskop geslaag. Vir die C-span het Regan Plaatjies, Romano Smith (2) en Levano Nathan agter All Blacks se doellyn gaan kuier. Darril Barnard het mer ’n doelskop geslaag.
• Bridgton speel Saterdag op die Rec teen Progress van George.