Laerskool Wesbank deur WKOD vir wiskunde vereer!

Penny Vinjevold (links), superintendent-generaal van die Wes-Kaapse departement van Onderwys, en Debbie Schäfer (regs), Wes-Kaapse minister van onderwys, saam met Alewyn Hanekom, hoof van die Laerskool Wesbank, met die toekenning aan die skool.

Penny Vinjevold (links), superintendent-generaal van die Wes-Kaapse departement van Onderwys, en Debbie Schäfer (regs), Wes-Kaapse minister van onderwys, saam met Alewyn Hanekom, hoof van die Laerskool Wesbank, met die toekenning aan die skool.

Die Laerskool Wesbank het op 18 Februarie in Kaapstad ’n spesiale toekenning vir uitnemendheid in wiskunde vir graad 3 en 6 van die Wes-Kaapse minister van onderwys, me Debbie Schäfer, ontvang.
Die toekenning van die Wes-Kaap­se Onderwysdepartement (WKOD) is gebaseer op die onafhanklike toetse wat jaarliks deur die WKOD afgeneem word.  Alle graad 3- en 6-leerders van die 1 200 skole (700 000 leerders) word verplig om die toetse te skryf.
Die doel is om die gehalte van onderrig te bepaal en te verbeter.
Laerskool Wesbank het puik pres­teer en is een van die drie skole in die Wes-Kaap wat die toekenning vir wiskunde ontvang het.
“Hierdie toekenning beteken vir die skool geweldig baie.  Ons is een van die heel beste skole in wiskunde in die Wes-Kaap,” sê die skoolhoof, mnr Alewyn Hanekom.
“Ons skool het die afgelope sewe jaar ses toekennings van die Minister van Onderwys ontvang vir ons uitste-kende akademie. Laerskool Wesbank is van die min skole in die Wes-Kaap wat dit kon vermag, en die enigste skool in die platteland!
“Ons is dankbaar dat ons skool uitstekende onderwysers het, goed be­stuur word en ouers het wat by hul kinders betrokke is. Baie dankie vir al die moeite met die huiswerk!
“Baie geluk aan al ons onderwysers vanaf graad R tot graad 7 met die puik prestasie! Ons is trots op hulle en natuurlik op ons pragtige leerders wat so mooi werk!”
• In 2015 was die graad 3’s van die Laerskool Wesbank se slaagpersentasie 100% teenoor die Wes-Kaap se slaagpersentasie van 58%. In 2014 was die graad 3’s se slaagpersentasie 97% teenoor die Wes-Kaap se 54% en in 2013 was dit 98% teenoor 55%.
In 2015 was die graad 6’e van Laer­skool Wesbank se slaagpersenta­sie 99% teenoor die Wes-Kaap se 38%, in 2014 was dit 97% teenoor 30% en in 2013 89% teenoor 28%.