K2 Topskoletoernooi vanjaar baie groter!

Deur Higgo Jacobs
Die Hoërskool Oudtshoorn se K2 Toptoernooi is vanjaar groter as verlede jaar met 44 sportspanne (rugby, netbal en hokkie) vanoor die hele land wat van Vrydag, 29 April, tot Maandag, 2 Mei, kom deelneem.
Bekende hoërskole soos De Kuilen, Ben Vorster, Duineveld, Helpmekaar en Marlow (om maar enkeles te noem) gaan vanjaar hul beste sportspanne die geleentheid gee om hul sporttalent ten toon te stel.
Volgens Harry Coetzee, organi-seerder van die toernooi, het die getalle van die toernooi vanjaar verdubbel vergeleke met verlede jaar.
“Waar ons in 2015 van sowat 500 besoekers aan ons dorp gepraat het, trek vanjaar se getalle reeds verby duisend! Dit sluit in leerders, afrigters, spanbestuurders, ouers, vriende en belangstellendes.
Gastehuise, hotelle, resaurante en skoolkoshuise gaan veral baat vind by dié groot getalle besoekers aan ons dorp.”
Saterdag se sportprogram, wat rugby-, hokkie- en netbalwedstryde insluit, begin reeds om 08:00 op die Struisies se velde. ’n Plaaslike radiostasie sal  van 08:00 tot 14:00 regstreekse nuusdekking van die dag se gebeure lewer.
Die eindstryde vind Maandag, 2 Mei, plaas. Die spanne vir die eindstryde sal aan die einde van die eerste dag se spel bekend gemaak word.
Die Struisie-tafel is gedek vir ’n opwindende naweek van sport, kuier, gesels, lag en eet.