Rodewallertjies maak stem dik!

Rodewal UCC Primêr se rugbyspan saam met hul trotse afrigter, Brenwill Visman, en die hoof van die skool, Petronella Abrahams.  Foto: Stefan Skapie Goosen

Rodewal UCC Primêr se rugbyspan saam met hul trotse afrigter, Brenwill Visman, en die hoof van die skool, Petronella Abrahams. Foto: Stefan Skapie Goosen

Deur Stefan Skapie Goosen
Rodewal UCC Primêr, ’n klein skooltjie net buite Oudtshoorn op die Kango Grotte-pad, het puik presteer by ’n wintersportfees op 11 Junie by Vlakteplaas UCC Primêr net buite De Rust.
Dié skool se o.11-spannetjie het oorwinnings van 100-0 en 45-15 behaal oor twee van die ander spanne wat deelgeneem het. Wat dié oorwinnings volgens hul skoolhoof, Petronella Abrahams, nog meer besonders maak, is dat dit die eerste keer in tien jaar is dat die skool ’n span het wat aan skolesport deelneem. én hulle het net drie dae gehad om saam te oefen voor die sportfees, vertel sy trots.
Die span word afgerig deur Brenwill Visman, wat self ’n kranige rugbyspeler op sy dag was en gekies is vir die SWD o.21-span voordat hy weens ’n ongeluk ’n paar jaar gelede in ’n rolstoel beland het.
“Ons het daai drie dae hard geoefen. Al het ons vir die o.11-afdeling ingeskryf, is van ons outjies nog jonger as dit,” het ’n trotse Visman gesê.
• Vir die prinsipaal van Vlakteplaas UCC Primêr, Isak Hendriks, het hul wintersportfees ’n geleentheid gebied vir leerders van landelike skole om aan sport deel te neem en het die fees bewys dat landelike leerders se sporttalente ontwikkel kan word.
“Ons as personeel en ook die ouers en beheerraadslede wil graag almal bedank wat aan die dag deelgeneem het,” het hy gesê.
Die ander skole wat deelgeneem het was Ceres Primêr uit die Boland, De Rust Primêr, Saturnus Primêr, Volmoed Primêr, Klaarstroom Primêr en Rooirivier Primêr. Skole kon aan rugby, sokker en netbal deelneem.