Steve Hofmeyr Oktober hier

Deur Liesel le Roux
DIE nuus is uit – Steve Hofmeyr tree op Saterdag, 1 Oktober, in ’n opelugkonsert net buite Oudts­hoorn op.
Hofmeyer word deur Lategansvlei Laerskool na Oudtshoorn gebring om die skool te help om broodnodige fondse in te samel.
Suid-Kapenaars het die afgelope week opgewonde op Facebook gereageer toe dit bekend geword het dat Hofmeyr Oudtshoorn toe kom en baie mense – veral vroue – wou weet waar hulle kaartjies in die hande kon kry.
Hofmeyer was in 2014 laas op Oudtshoorn toe hy by die KKNK gesing het.
Hy tree die middag om 16:00 op Lategansvlei se sokkerveld op. Dié sokkerveld is ’n aantal jare gelede met die finansiële steun van Duitse toeriste gebou. Dié toeriste, wat die gastehuis van  Dario Urbanski daar naby besoek het, is  deur Urbanski na die skool geneem en het so daarby betrokke ge­raak. Lategansvlei is tussen Oudtshoorn en Calitzdorp geleë.
’n Voorvertoning met die Country-sangeres Heidi skop om 14:00 af.
Daar is twee soorte kaartjies vir Hofmeyr se optrede.
Gewone kaartjies kos R130 elk en is te koop by Die Herrie. Vir dié kaartjies moet konsertgangers elkeen hul eie stoel of kombers saamneem. Kinders onder ses jaar kan gratis saam­gaan met diegene wat gewone kaartjies koop.
Daar is voorts ook 300 spesiale VIP-kaartjies beskikbaar vir diegene wat naby aan die verhoog wil sit.
Hierdie kaartjies kos R150 en sluit ’n stoel in. Almal wat hier wil sit, ook kinders onder ses jaar, sal die volle prys moet betaal.
Die VIP-kaartjies is slegs by Vreda Lategan (082 967 6865) of Luzet Reuter (073 997 8914) te koop. Hulle is Saterdagoggend vanaf 10:30 by Cafe Soleil waar hulle kaartjies sal verkoop.
Op die sokkerveld sal ook kosstalletjies, ’n biertent en genoeg kinderspeelplek wees.
Lategan, bestuurder en tesourier van die skool­tjie, sê die skooltjie kry tans swaar en het dringend ekstra fondse nodig. “Ons het byvoorbeeld nie tans die fondse om ’n graad R-juffrou te betaal nie. Ons uitgawes raak net te veel en ons moet ’n plan maak.”
Volgens Lategan is daar groot belangstelling vir die optrede van Hofmeyr en hoop hulle om 2 500 of meer mense na die konsert te trek. Hulle vertrou dat hulle genoeg kaartjies sal verkoop om, nadat Hofmeyr betaal is, ook die skool se belangrikste uitgawes te kan dek.