Sacred Heart 1ste jaar bo!

Die span wat almal se asems by die Suid-Afrikanse Trompoppiekampioenskap weggeslaan het. Sacred Heart Primêr van Oudtshoorn se trompoppies is by hul eerste deelname aan dié kampioenskap as die kampioenspan in die Presidentsliga gekroon. Foto: Facebook

Die span wat almal se asems by die Suid-Afrikanse Trompoppiekampioenskap weggeslaan het. Sacred Heart Primêr van Oudtshoorn se trompoppies is by hul eerste deelname aan dié kampioenskap as die kampioenspan in die Presidentsliga gekroon. Foto: Facebook

Deur Liesel le Roux
DIE trompoppiespanne van vier Oudtshoorn-skole het die dorp se naam hoog gehou by die pas afgelope Suid-Afrikaanse Trom­pop­piekampioenskap wat in Ger­miston gehou is.
Slegs die heel beste trompoppiespanne in die land kry die geleentheid om aan dié nasionale kampioenskap deel te neem
Oudtshoorn se sterre vanjaar is die span van Sacred Heart Pri­mêr wat nie net vanjaar die eers­te keer vir die kompetisie gekwalifiseer het op grond van hul prestasies in die streekkompe­tisies nie, maar boonop met hul eerste deelname as die kampioen van kampioene in die Presidents­liga aangewys is!
Dié skitterspan, wat afgerig word deur Alecia Booysen en slegs twee jaar kompeterend deel­neem, is as die wenners van die Presidentsliga aangewys na­dat hulle die eerste plek losge­slaan het in die non-prop/pom- afdeling, die vlaggroep en die throwing props-afdeling en twee­de was in die groot drilpeleton.
Twee Oudtshoorn-spanne, dié van die Hoërskool Oudtshoorn en dié van die Laerskool Van Reede, het in die Elite-afdeling deelgeneem en beide deurge­dring na die finale ronde wat beteken het dat hulle onder die toptien-skole in die land val.
Dit was die Struisies se eerste deelname in die Elite-afdeling en hulle is met ’n 10de plek beloon, terwyl Van Reede, wat die tweede keer aan die Elite-afde­ling deelgeneem het, algeheel agste was.
Die span van Bridgton Senior Sekondêr was ook op hul tone en het deurgaans in hul afdelings uitgeblink om uiteindelik die vyfde plek algeheel in die Presidentsliga  te behaal.
’n Eerste vanjaar was die deelname van die SWD-trompoppies aan die provinsiale afdeling van die kampioenskap. Die SWD-hoër­skool- en laerskoolspanne, met baie jong Oudts­hoorniete in hul geledere, was beide vierde in die land.
• Die verskil tussen die Presidents- en Elite-liga: spanne neem aanvanklik in die Presidentsliga deel. Die drie topspanne in die Presidentsliga skuif na die kampioenskap op na die Elite-liga.