De Beers Engelse Olimpiade 2016: Sue-Ané land se toppresteerder

Sue-Ané Sabad.  Foto: Stefan Skapie Goosen

Sue-Ané Sabad. Foto: Stefan Skapie Goosen

Deur Stefan Skapie Goosen
EN daar lewer Oudtshoorn die toppresteerder op in die nasionale De Beers Engelse Olimpiade van 2016 vir Engels Eerste Addisionele Taal!
Sue-Ané Sabad (16), graad 11-leerder aan Langenhoven Gimnasium, het reeds verlede jaar toe sy net 15 was vir dié olimpiade ingeskryf. Dus het sy die kompetisie gewen toe sy nog in graad 10 was!
“Eers het juffrou Pieters, my onderwyser in daardie stadium, ons aangemoedig om in te skryf, maar ek wou nie eintlik nie. Toe sê my vriendin, Brenique, vir my sy gaan deelneem en ek moet join,” sê Sue-Ané.
Sue-Ané is een van die top 20-leerders in haar graad.
Leerders wat vir die olimpiade ingeskryf het, moes volgens Sue-Ané vier of vyf voorgeskrewe stories lees waarna al die stories in een opstel van 400 tot 500 woorde saamgevat moes word.
Die tema vir die opstel was, The Darkness of a Man’s Heart.
“Ons het kans gekry om vooraf beplanning te doen voordat ons die amptelike opstel hier by die skool geskryf het, maar ek het glad nie beplan nie en net gaan skryf,” skerts sy.
Sue-Ané vertel verder dat die nuus dat sy gewen het heeltemal onverwags en ’n heel “aangename verras­sing” was.
Sy het eers verlede Dinsdag (26 Julie) gehoor dat sy gewen het.
“Ek beskou myself nie eintlik as ’n skrywer nie, maar ek lees graag en het my opstel probeer skryf uit die leser se oogpunt,” sê sy.
Haar ouers, Rudi en Lynette Sabad, was net so verras deur die nuus soos hul dogter was.
Hulle is albei onderwysers by Môrester Hoërskool.
“Dit was so ongelooflik en onverwags en ons is regtig baie trots op Sue-Ané. Ons is bly dat haar liefde vir lees haar op hierdie manier beloon het,” het Lynette gesê.
Sue-Ané het onder meer R3 000 vir haar prestasie gewen!
“Ek het nog geen idee wat ek met die geld gaan doen nie, maar dink ek gaan dit solank belê sodat ek eendag iets groot daarmee kan doen,” sê Sue-Ané.
“Dis maar net die begin van baie dinge vir my!”