De Rust-inwoners versoek om water spaarsaam te gebruik

DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het gister inwoners van De Rust en Blomnek versoek om water spaarsaam te gebruik en so te verhinder dat die dorp se beskikbare water opraak.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, munisipale woordvoerder, is watervloei na die dorp herstel nadat pype en pompe verlede week  en ook weer oor die naweek verstop het as gevolg van plantmateriaal wat na ’n brand en stortreën in die waterbronne beland het.
Die munisipaliteit kan egter tans nie voorbly met watervoorsiening nie, aangesien inwoners se verbruik sedert die naweek na meer as dubbeld van wat dit gewoonlik is, gestyg het.
“Ons vra inwoners om water spaarsamig te gebruik en nie tans water te gebruik om motors te was en tuine nat te spuit nie.”
Die munisipaliteit het gister ’n watermonster geneem om te laat toets vir sekerheid dat die water ook nou weer veilig is om te drink. Vroeër vandeesweek het die munisipaliteit inwoners versoek om nie die kraanwater te drink nie, hoewel dit vir ander doeleindes gebruik kon word. Mang­qwengqwe sê die munisipaliteit sal inwoners in kennis stel of die water veilig is om te drink sodra die uitslag van die toetse ontvang is.
Die raadslid vir De Rust, Raymond Wildschut, het ’n beroep op besighede en die publiek gedoen om voort te gaan om De Rust met drinkwater te ondersteun.
• Garnett Wicomb berig dat die burgemeester, Colan Sylvester, en die  munisipale bestuurder, Allen Paulse, verlede Donderdag saam met ander munisipale amptenare met die inwoners van De Rust vergader het om hulle in te lig oor die watersituasie op die dorp.
Paulse het die inwoners ingelig dat die Wes-Kaapse regering en Eden Distriksmunisipaliteit twee groot watertrokke met ’n totale kapasiteit van 22 000 liter aan die Oudtshoorn Munisipaliteit beskikbaar gestel het. Dit is saam met die twee watertenkwaens van die munisipaliteit ingespan om drinkwater aan inwoners te voorsien.