Relay for Life vier 10de jaar hier

Deur Ilze-Mari Gründling
TREK solank ’n rooi kring om die datums 4 en 5 Februarie, want daardie Saterdag en Sondag vier die Kansa Relay for Life sy tiende verjaarsdag op Oudtshoorn.
Dit is ’n geskiedkundige verjaarsdag want Oudts­hoorn se Relay for Life het baanbrekerswerk gedoen en was die eerste Relay for Life in Suid-Afrika.
Die Relay for Life is ’n pretstap wat ten doel het om fondse in te samel vir gesondheidsorganisasies en mense bewus te maak van kanker en watter impak dit op mense se lewens het.
Dit is ook ’n geleentheid waar mense hul ondersteuning kan wys vir dié wat aan kanker ly asook vir diegene wat voorheen teen kanker baklei het.
Die Relay for Life vind vanjaar soos tevore by die De Jager Sportkompleks plaas en skop om 16:00 die Saterdagmiddag af.
Teen 20:00 vind die tradisionele kerslig-seremonie plaas.
Hiertydens word kerse aangesteek ter herinnering aan almal wat aan kanker gesterf het, wat daaraan ly en die wat dit oorwin het.
Die Relay for Life eindig om 06:00 die Sondagoggend.
Inwoners word genooi om deel te word van dié projek en deel te neem. Spanne van kollegas en vriende is ook welkom om in te skryf.
Kontak Vicky Scheepers, koördineerder van die Relay For Life-span, by tel 044 272 0039 vir meer besonderhede en om te registreer.