Valke neem oud-prokureur in hegtenis

’N VOORMALIGE prokureur van Oudtshoorn, Jacques du Preez, is Vrydag deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (die Valke) in hegtenis geneem nadat hy versuim het om vir gevangenistraf aan te meld.
Du Preez (55) is in November 2015 in die George Landdroshof skuldig bevind aan diefstal en bedrog nadat hy skuldig bevind is dat hy ’n kliënt uit bykans R400 000, wat in sy prokureursfirma se rekening inbetaal is, bedrieg het.
Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, maar het appèl teen die vonnis aangeteken. Sy appèl is in November 2016 van die hand gewys en Du Preez, wat op borgtog uit was, is opdrag gegee om by ’n korrektiewe fasiliteit aan te meld. Hy het egter versuim om dit te doen. (Berig aangepas)