Sy wou graag ’n dokter geword het

Deur Garnett Wicomb
“DIT is nie maklik om afskeid te neem van ’n negejarige kind nie, maar die Here weet hoekom hy haar kom haal het, en ons moet daarby berus.”
Dit was Saterdagoggend die boodskap van ds Christopher Maarman in ’n volgepakte Môreson Verenigde Gereformeerde Kerk, aan die moeder en familie van die negejarige Janeescha Rond­ganger.
Janeescha het op Sondag, 15 Januarie, in ’n swembad by die Kango Bergoord buite Oudts­hoorn verdrink.
Hartroerende tonele het dit afgespeel toe leerders vir oulaas hul skoolmaat gegroet het.
’n Moedige meisieskool-koor van Saturnus Primêr waar Janeescha ’n Gr 4- leerder was, het die trane laat rol met hul liedjie, “Môre sal die son weer skyn. Jy is mos ’n Koningskind”.
“Sy wou graag ’n dokter geword het, maar is nou veilig in Jesus se hande,” het die negejarige nefie van Janeescha, Lushesne April, in ’n kort huldeblyk vertel.
“Ek sal nooit die laaste Kersfees en Nuwejaar wat ons saam was vergeet nie,” het hy van die preekstoel af gesê.
Janeescha was volgens haar klasonderwyseres van verlede jaar, me Crystal Hufke, “ ’n pragtige meisiekeind met die breedste glimlag. Dit voel asof ek my eie kind verloor het.”
Ds Maarman het na aanleiding van Spreuke 1:7 (“Kennis begin met die dien van die Here”) ’n boodskap van troos gebring.
Hy het beklemtoon dat die basiese opvoedings­proses by die kind se ouerhuis begin en dat die skool net ’n verlengstuk is.
Sy bemoedigende woorde aan Janeescha se moeder, Hanneline, was dat die pyn nie sal ver­dwyn nie, maar ligter sal raak omdat sy die volgende mammie wat ’n kind op dié manier verloor, sal kan ondersteun met die woorde: “Ek weet hoe dit voel. Ek kom daardeur.”
’n Groot aantal leerders van Saturnus Primêr het die begrafnis bygewoon en ’n erewag vir Janeescha by die kerk en begraafplaas gevorm.