Twee toeriste se handsakke weer in ‘n hotel gesteel

NOG toeriste het vanoggend in die eetsaal van ‘n hotel op Oudtshoorn onder handsakdiewe deurgeloop.

Volgens kapt Louis Visser, polisiewoordvoerder, ondersoek die Oudtshoorn Polisie ’n saak van diefstal nadat twee handsakke van Oostenrykse toeriste  vanoggend 07:50 in die Oudtshoorn Inn se eetsaal gesteel is.

Volgens Visser kan dit dieselfde mans wees wat op 3 Januarie ook handsakke van toeriste in die ontbytkamer van die Queen’s Hotel op die dorp gesteel het.

CCTV-kameras by die Oudtshoorn Inn toon drie mans met hoede en pette op wat die saal binnestap, die handsakke gryp en weer weer uitstap. Hulle stap daarna  in Van der Rietstraat af.

Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie sê die beeldmateriaal toon ‘n blanke man, ‘n lang swart skraal man en nog ‘n man wat Asies of Indies mag wees.

In die handsakke was onder meer selfone, euros, paspoorte, beursies, en kontant. Die waarde van die twee handsakke met hul inhoud word op onderskeidelik R13 000 en R50 000  beraam.